Kaapstad is enigste stad in Afrika op A-lys vir klimaatsdata 

Die Stad Kaapstad is die enigste stad in Afrika wat die 2021 koolstof-bekendmakingsprojek, oftewel die CDP se A-lys gehaal het.  Die lys verwys na stede oor die wêreld heen, met goeie inligting oor klimaatsverandering, deursigtigheid en optrede. Die CDP gradeer jaarliks stede van A tot D, gegrond op hul bekendmaking van hul reaksie op klimaatsverandering. Die stad se burgemeesterskomiteelid vir energie en klimaatsverandering, Beverley van Reenen, sê deur jaarliks klimaatsdata uit te reik, is Kaapstad deursigtig oor sy klimaatsoptrede, die monitor van vordering en risiko’s, en vergelyking met ander stede wat voor dieselfde uitdagings te staan kom.