Julian Sands na ‘n week steeds vermis

Die soektog na die Brits-gebore rolprentster Julian Sands, duur voort na hy verlede week Vrydag in die sneeubedekte berge van Suid-Kalifornië verdwyn het. Lugsoektogte met helikopters en hommeltuie duur voort maar daar is tot dusver geen teken van die 65-jarige akteur nie. Grondspanne kan as gevolg van die weerstoestande nie ontplooi word nie. Selfoonseine wat op Sondag 15 Januarie opgespoor is, het gewys Sands was toe op pad na die Mount Baldy-omgewing, blykbaar die jongste aanduiding dat hy steeds aan die beweeg was. Geen verdere seine is opgetel nie maar dit kan wees as gevolg van kragonderbrekings op torings. Temperature het die week tot -4 grade Celsius gedaal en daar heers groot kommer oor Sands se welstand.