Joslin Smith-verdwyningsaak weer uitgestel

Die Landdroshof in Vredenburg het die saak teen vier beskuldigdes wat verbind word met die verdwyning van die sesjarige Joslin Smith tot 16 September uitgestel. Joslin het vier maande gelede vermis geraak by haar huis in die Middelpos informele nedersetting in Saldanhabaai. Die meisie se ma, Kelly Smith, haar kêrel, Jacquin Boeta Appollis, hulle vriend Steveno van Rhyn en Laurentia Lombard word aangekla van ontvoering en mensehandel. Smith is swanger met haar vierde kind. Die hof het ‘n vorderingsverslag verwag, maar sekere forensiese getuienis is nog uitstaande.