Joernalis agter tralies oor artikel oor voedselpryse in Bangladesj

Polisie in Bangladesj het ‘n verslaggewer van ‘n vooraanstaande koerant in daardie land aangekla vir die vervaardiging van “fopnuus” nadat ‘n artikel oor hoë voedselpryse wyd versprei is. Die drakoniese Wet op Digitale Sekuriteit waarvolgens die joernalis Shamsuzzaman Shams aangekla is, word deur die regering gebruik om joernaliste en kritici te muilband, sê regte-groepe. Die minister van binnelandse sake, Asaduzzaman Khan, het bevestig dat die verslaggewer deur die polisie ondervra is vir fopnuus en dat daar ’n saak teen hom aanhangig gemaak is. Hy word daarvan aangekla dat hy die beeld van die regering geskend het en dat hy vrae geopper het oor die prestasies van Bangladesj.