Job verloor lastersaak, moet Maureen N$100 000 betaal

Die leier van die Affirmative Repositioning-beweging Job Amupanda het die lastersaak deur die adjunkfinansminister Maureen Hinda-Mbuende verloor en moet aan haar 100 000 Namibiese dollar in skadevergoeding betaal. Regter Collins Parker het vanoggend sy beslissing bekend gemaak. Die saak het gehandel oor ‘n plasing op 28 Julie 2021 waar Amupunda gesê het, saam met ‘n foto van haar, “It looks like deputy minister of finance Maureen Hinda during the liberation struggle. Maureen was soo WizWiz. It’s like she won’t think twice about taking a knife out!” Sy het ‘n miljoen dollar se skadevergoeding aangevra. Amupanda het laster ontken en sê Hinda-Mbuende is vies omdat hy haar flikflooiery met hom verwerp het.