Jamie Oliver onttrek sy boek in Australië

Die bekende sjef, Jamie Oliver, het sy nuwe kinderboek van die rakke onttrek na besware dat dit inheemse Australiërs stereotipeer. Die fantasieroman, Billy and the Epic Escape, handel oor ʼn Australiese inboorling-meisie met geheime kragte wat in pleegsorg is, wat uit haar huis in sentraal-Australië ontvoer word. Volgens die uitgewer, Penguin Random House UK, het Oliver versoek dat inheemse Australiërs oor die boek geraadpleeg word, maar “redaksionele versuim” het meegebring dat dit nie gebeur nie. Die uitgewer erken in ʼn verklaring sy uitgewerstandaarde het tekort geskiet en die maatskappy moet daaruit leer.