Jagluiperd-bewaringsfonds lei nou gemengde-ras honde op

Die Jagluiperd-bewaringsfonds is in 1990 in Namibië gestig en is toegewyd daaraan om die jagluiperd in die natuur te red. Een van die programme waaraan hulle werk, is saam met boere om te kyk of hulle gemengde-ras honde net so goed kan laat werk as Anatoliese skaaphonde, aangesien hulle kleiner is en dus goedkoper om te voer, en dalk meer voordelig is in kommunale gebiede. Die fonds neem ongewenste werpsels in wat boere op hul plase het, gewoonlik omdat die boere nie kan bekostig om hul honde te laat steriliseer nie. Hulle bied aan om dit gratis te doen as die boere die hondjies skenk. Die fonds kan hulle grootmaak en  oplei om werk-honde te wees, wat sal help met die lang waglys vir sulke honde, en mens-wild konflik in Namibië verder versag. Dr Laurie Marker, die stigter van die Jagluiperd-bewaringsfonds, het met Kosmos 94.1 Nuus gepraat oor hoe die program vaar.