Ja, Nandi-Ndaitwah moet bedank as sy vir party-presidentskap wil veg

Volgens plaaslike berigte sê voormalige kabinetsminister Jerry Ekandjo hy glo die posisie van Swapo-partypresident by die komende buitengewone kongres moet vir mans gereserveer word om geslagsbalans te bereik. Hy het na wat berig word gevra vir die bedanking van Swapo-visepresident Netumbo Nandi-Ndaitwah, as sy vir die party-presidentskap wil staan. Nandi-Ndaitwah word egter allerweë beskou as die gunsteling om die presidensiële wedloop by die komende kongres te wen. Kosmos 94.1 Nuus het met die politieke ontleder, dr. Ndumba Kamwanyah, gepraat wat sê dat Nandi-Ndaitwah inderdaad uit die visepresident-posisie moet bedank om vir die party se presidentskap mee te ding. Sy staan egter ‘n baie goeie kans om te wen.

Kamwanyah sê dit kan wees dat getrouhede verskuif het tussen die laaste kongres in November verlede jaar en nou, en dit kan dalk ‘n uitdaging vir Nandi-Ndaitwah wees.