Italië gaan Davisbeker-eindtoernooi aanbied vir volgende 3 jaar

Tennis: Italië is vanaf volgende jaar tot 2027 bevestig as gasheer van die Davisbeker-eindtoernooi. Die Internasionale Tennisfederasie het die aankondiging gedoen nadat Málaga in Spanje die mans-spantoernooi sedert 2022 aangebied het. Volgende jaar se toernooi sal in Bologna plaasvind. Die ITF sê Italië het ʼn ryk geskiedenis in die sport en ʼn bewese vermoë om sportbyeenkomste van wêreldgehalte aan te bied. Die wêreld nommer een, Jannik Sinner, het die land verlede maand tot ʼn tweede agtereenvolgende Davisbeker-titel aangevoer.