Israelse troepe skiet drie Gaza-gyselaars dood

Israel sê sy troepe het drie Gaza-gyselaars doodgeskiet nadat hulle verkeerdelik aangesien is as ‘n bedreiging. Die gewapende magte het diepe spyt uitgespreek oor wat hulle beskryf as ‘n “tragiese voorval”, wat gelei het tot betogings in Tel Aviv. Die Israelse weermag sê Yotam Haim, Alon Shamriz en Samer El-Talalqa, wat onder dié was wat tydens Hamas se inval in Israel op 7 Oktober ontvoer is, is doodgeskiet tydens operasies in ‘n woonbuurt in Gaza-stad. Die eerste minister Benjamin Netanyahu het die dood van die drie gyselaars beskryf as ‘n onhoudbare tragedie, terwyl die Withuis die voorval ‘n tragiese fout noem. Hamas sê ongeveer 18 800 Palestyne het reeds in die oorlog gesterf.