Israel stel Gaza-plan bekend

Israel se minister van Verdediging, Yoav Gallant, het voorstelle bekend gemaak vir die toekomstige beheer in Gaza wanneer die oorlog tussen Israel en Hamas verby is. Hy sê Hamas gaan nie langer Gaza regeer nie en Israel sal die oorkoepelende sekuriteitsbeheer behou. Intussen word Amerika se minister van buitelandse sake, Antony Blinken, vandeesweek weer in die streek verwag om met Israelse leiers en Palestynse amtenare in die Wesoewer te beraadslaag. Sy besoek volg te midde van verhoogde spanning ná die sluipmoord Dinsdag op die top-Hamas-leier, Saleh al-Arouri. Israel word van sy dood beskuldig, maar het nog nie betrokkenheid daarby erken of ontken nie.