Israel sê Hamas-leier moontlik vermoor

Die Israelse weermag sê hulle ondersoek die moontlikheid dat hulle die leier van Hamas, Yahya Sinwar, vermoor het. Sinwar was sedert 2017 die leier van Hamas in Gaza en word beskou as die baasbrein agter die aanvalle op 7 Oktober. Die 62-jarige het die algehele leierskap van Hamas oorgeneem nadat sy politieke leier, Ismael Haniyeh, in Julie in Iran vermoor is. Volgens Sky News Middle East het Sinwar vermoedelik ondergronds in die tonnelnetwerk onder Gaza weggekruip. Hy was die hoofteiken sedert Israel ʼn jaar gelede met aanvalle en grondoperasies in Gaza begin het.