Israel reg vir operasie aan Libanon-grens

Eerste minister Benjamin Netanyahu sê Israel is voorbereid op ‘n intensiewe operasie aan die grens met Libanon, waar Israelse soldate betrokke is by byna daaglikse gevegte met Hizbollah-vegters. Skietgevegte tussen Israel en die Irans-gesteunde bondgenoot van Hamas het die afgelope week vererger, met herhaalde Israelse aanvalle diep binne Libanese grondgebied. Netanyahu se verregse koalisie-vennote, die minister van Nasionale Sekerheid, Itamar Ben Gvir, en die minister van Finansies, Bezalel Smotrich, het albei die afgelope paar dae gevra vir dringende optrede om sekerheid te herstel in die noorde.