Israel ontbied Belgiese en Spaanse ambassadeurs

Die Israeliese regering sê hy sal die Belgiese en Spaanse ambassadeurs ontbied na aanleiding van opmerkings deur die Spaanse premier Pedro Sánchez en sy Belgiese eweknie Alexander de Croo oor die oorlog tussen Israel en Hamas. Die aankondiging kom nadat die twee leiers Israel gekritiseer het vir die lyding van Palestynse burgerlikes onder Israeliese militêre operasies in Gaza. Sánchez het ook gevra dat die Europese Unie ‘n Palestynse staat erken, en gesê dit sal beter wees as die EU dit doen, maar as dit nie die geval is nie sal Spanje sy eie besluite neem.