Iran sê hy het reg tot selfverdediging

Iran se gesant by die Verenigde Nasies, Amir Saeid Iravani, sê die land het sy inherente reg op selfverdediging uitgeoefen deur Israel aan te val en het geen ander keuse gehad as om op te tree nie. Iran het Saterdag sy eerste direkte aanval ooit op Israelse grondgebied uitgevoer, uit weerwraak vir ‘n dodelike lugaanval op sy konsulaat vroeër die maand in Sirië se hoofstad. Iravani sê Iran soek nie eskalasie van die aggressie, óf oorlog nie, maar sal reageer op enige bedreiging óf daad van aggressie.