Inperkings brei uit in China

Sjanghai het vandag ‘n rekordgetal simptomatiese Covid-gevalle aangemeld met ander gebiede regoor China wat ook inperkings ingestel het. Die Zhengzhou-lughawe se ekonomiese sone, ‘n sentrale Chinese vervaardigingsgebied wat die Apple-verskaffer Foxconn insluit, het Vrydag ‘n twee-week lange inperking aangekondig. In die noordweste het die stad Xian Vrydag inwoners aangemoedig om onnodige reise buite hul woongebiede te vermy en maatskappye aangemoedig om werknemers van die huis af te laat werk. Sjanghai, die middelpunt van China se onlangse uitbreking, het Saterdag ‘n rekord van 3 590 simptomatiese gevalle aangemeld, sowel as 19 923 asimptomatiese gevalle. Daar was die week burgerlike onrus in die stad, iets vreemds vir China. Owerhede het beslag gelê op gehuurde eiendomme om hulle in kwarantyn-fasiliteite te omskep. Voedseltekorte kom ook voor wat gelei het tot plundery.