Infantino praat uiteindelik oor daai soen

Fifa-president Gianni Infantino sê Luis Rubiales se nou omstrede soen op die mond van die Spaanse vrouesokkerster Jenni Hermoso “moes nooit gebeur het nie”. In sy eerste reaksie op die voorval wat by die aanbiedingseremonie plaasgevind het ná Spanje se oorwinning oor Engeland in die Wêreldbeker-eindstryd vir vroue, het Infantino gesê die gedrag van die Spaanse federasiebaas Rubiales het die geleentheid “bederf”. Hy sê op Instagram die soen, sowel as dit wat in die volgende dae aanhou gebeur het moes nie gebeur het nie. Die herrie het in Spanje oor die aangeleentheid losgebars. Fifa het Rubiales geskors maar hy weier om as federasiebaas te bedank.