Indiese werkers sit steeds vas in tonnel

Indiese owerhede ondersoek vyf nuwe planne om werkers te red wat in ‘n ineengestorte tonnel in die Indiese Himalajas vasgekeer is ná ‘n week van mislukte pogings. Een-en-veertig mans, wat sedert 12 November in die 4,5 kilometer-lange snelwegtonnel vassit, is veilig en kry deur ‘n pyp water, kos, vitamiene en anti-depressante, volgens die owerhede. Reddingswerkers het horisontaal deur die puin geboor na die vasgekeerde werkers totdat die spesiale boormasjien Vrydag gebreek het. ‘n Nuwe een is ingevlieg maar dit sal dae vat voordat dit kan begin boor. Nou oorweeg die reddingspan alternatiewe, insluitend ‘n loodregte tonnel met twee voorgestelde roetes.