Impak van klimaatsverandering op Namibië bekend… dit wek kommer

Die Namibiese Kamer van die Omgewing het ‘n uiters kommerwekkende verslag bekend gestel oor klimaatsverandering in Namibië. Die land is 107ste uit 182 lande op ‘n indeks wat ‘n land se kwesbaarheid kombineer met sy gereedheid om aan te pas tot klimaatsverandering. Die laaste 120 jaar toon ook dat die land uiters warm geword het vanaf 2010. Dit wil voorkom asof die frekwensie van droogtes toeneem, met een jaar van droogtetoestande wat in die 1980’s aangeteken is, drie in die 1990’s, twee in die 2000’s en drie in die 2010’s. Die mees onlangse hiervan was 2018/19. ’n Geskatte derde van Namibiërs het voedseltekorte gely, 90 000 vee het tussen Oktober 2018 en Junie 2019 gevrek, en die Stad Windhoek het ’n waterkrisis verklaar, soos vanjaar weer. Voorspellings toon dat jaarlikse temperature verder sal styg moontlik met 4 grade Celsius oor die volgende eeu, met reënval wat met 14 persent sal afneem.