Imalwa wil Amushelelo se sake saamvoeg

Die omstrede arbeidsaktivis Michael Amushelelo het vanoggend in die Windhoek-laerhof verskyn op die aanklagte in verband met Stad Windhoek se kontrakwerkers. Hy is in die verband op 15 Februarie gearresteer. Sy prokureur, Kadhila Amoomo sê hulle is ingelig dat die kantoor van die aanklaer-generaal die lêers van sy verskeie sake, Walvisbaai ingesluit, aangevra het. Die aanklaer-generaal oorweeg dit blykbaar om die sake saam te voeg, veral omdat die klagtes ooreenstem. Daar is drie sake: Die Stad Windhoek aangeleentheid, die Walvisbaai-saak en die saak op Onafhanklikheidsdag. Die China Town-klagtes is teruggetrek. Amushelelo sal weer op 19 April in Katutura verskyn vir ‘n formele borgaansoek.