Ierland verplig seks-onderrig in skole
Die Republiek van Ierland het ʼn nuwe beleid in werking gestel wat verhoudings en seks-onderrig verpligtend maak vir 15- tot 18-jariges. Dit vorm deel van die aanpassings aan die leerplan vir maatskaplike, persoonlike en gesondheids-opvoeding vir senior leerders. Die Nasionale Raad vir Leerplan sê hoërskole moet een uur per week daaraan wy om hierdie lesse te gee, wat omvattende onderrig bied oor verhoudings en seksuele gesondheid. Die leerplan sal onderwerpe behandel soos toestemming, intimiteit, veilige seks-praktyke, onbeplande swangerskap en bewustheid van geslagsgeweld.