Hyphen teiken kleiner omgewingsimpak

Hyphen het in 2021 die tender gekry om die land se eerste groenwaterstofproduksie- en -voorsieningsprojek in die Tsau //Khaeb Nasionale Park naby Lüderitz in die Karas-streek te ontwikkel. Die maatskappy is sedertdien gekritiseer vir sy bedrywighede in die park, aangesien dit deur baie mense as ‘n ongerepte gebied beskou word. Mynbou-ontwikkelings vind egter sedert 1908 op die terrein plaas nadat diamante in die gebied ontdek is. Tydens ‘n onderhoud met die Gondawana Collections-potgooi het Marco Raffinetti, Hyphen se uitvoerende hoof, gesê dat hulle hul impak op die omgewing wil verminder.