Human Rights Watch beskuldig Israel van oorlogsmisdaad

Human Rights Watch sê Israel het toesig gehou oor die gedwonge massaverplasing van Palestyne in Gaza en hy beskou dit as ʼn doelbewuste en stelselmatige veldtog wat op oorlogsmisdaad en misdaad teen die mensdom neerkom. Sowat 1,9-miljoen mense is die afgelope 13 maande in Gaza verplaas. Human Rights Watch sê die Israelse regering sê hy hou Palestyne veilig, maar volgens die organisasie word mense op die ontsnaproetes doodgemaak en sogenaamde veilige sones word gebombardeer. Die Israelse weermag sê egter hy is verbind tot internasionale reg en tree daarvolgens op.