HRW vra Soedan-wapenverbod, sanksies oor oorlogsmisdade

Human Rights Watch sê in ‘n verslag Amerika en die Afrika-unie moet dringend ‘n wapenverbod op Soedan instel en ‘n sending met ‘n robuuste polisiemag na Darfoer ontplooi om burgerlikes te beskerm. Dit kom nadat getuies beskryf het hoe lewende kinders in Junie verlede jaar deur die paramilitêre Rapid Support Forces “opgestapel en geskiet” is. Hulle het probeer om uit die streekhoofstad El Geneina te ontsnap tydens etniese geweld waarin duisende burgerlikes vermoor is. Die verslag vra vir sanksies vir diegene verantwoordelik vir wydverspreide oorlogsmisdade, insluitend die Wes-Darfoer RSF-bevelvoerder Abdel Rahman Joma’a Barakallah, die berugte RSF bevelvoerder Mohamed “Hemedti” Hamdan Dagalo, en sy broer Abdel Raheem.