Houthi-aanval stoot olieprys weer op

Brent Ru-oliepryse het laat Vrydagnag tot meer as 120 Amerikaanse dollar ‘n vat gestyg na ‘n missielaanval op ‘n olieverspreidingsfasiliteit in Saoedi-Arabië. Dit bring die totale styging vir Brent dié week tot 11,5 persent. Jemen se Houthi’s sê hulle het aanvalle op Saoedi-energiefasiliteite geloods en die Saoedi-koalisie sê Aramco se brandstofverspreidingstasie in Jeddah is deur ‘n aanval geteiken, maar dat ‘n brand in twee tenks by die fasiliteit onder beheer gebring is. Die land sê hy sal nie verantwoordelikheid dra vir enige tekort aan olievoorrade in wêreldmarkte wat veroorsaak word deur Houthi-aanvalle op sy oliefasiliteite nie. Die Iran-gebonde Houthi-beweging wat al sewe jaar lank ‘n koalisie onder leiding van Saoedi-Arabië veg, het missiele op Aramco se fasiliteite in Jeddah en hommeltuie by Ras Tanura en Rabigh-raffinaderye gelanseer. Op die oomblik kos ‘n vat Brent net meer as 119 Amerikaanse dollar ‘n vat.