Hosea Kutako Museum en Gedenkheiligdom volgende maand ingehuldig
President Nangolo Mbumba sal op 18 November die Hosea Kutako Museum en Gedenkheiligdom by Taosis in die Aminius-kiesafdeling in die Omaheke-streek inhuldig. Die heiligdom vang die geskiedkundige reis vas van een van Namibië se mees gerespekteerde leiers en ‘n deurslaggewende figuur in die land se stryd om onafhanklikheid. Hoofman Hosea Kutako was een van Namibië se prominentste politieke leiers. Hy het ‘n belangrike rol gespeel om die Verenigde Nasies Organisasie te petisie en te eis dat die destydse Suidwes-Afrika onder die Verenigde Nasies Trusteeskap-stelsel geplaas word. Dit het gehelp om steun vir Namibië se onafhanklikheidsbeweging aan te wakker en het die behoefte aan selfbeskikking vir die mense van Namibië beklemtoon.