Hoop wink vir DRK

Die Demokratiese Republiek die Kongo het ‘n nuwe regering aangekondig, en só meer as vyf maande van diepe onsekerheid beëindig. Vandag se aankondiging het gevolg op president Felix Tshisekedi se herverkiesing in Desember. Aljazeera berig die land se minister van Verdediging, Guy Kabombo Muadiamvita, sal ‘n deurslaggewende rol speel, teen die agtergrond van die staatsgreeppoging tien dae gelede en die konflik wat woed tussen die Kongolese weermag en Rwanda-gesteunde M23-rebelle in die mineraalryke ooste van die land.