Hoof van SA Leër is in in Moskou
Internasionale media berig die hoof van die Suid-Afrikaanse Leër, luitenant-generaal Lawrence Mbatha, is in Moskou vir samesprekings. Dit volg dae nadat Amerika vir Suid-Afrika daarvan beskuldig het dat hulle in die geheim wapens aan Rusland verskaf het. Rusland se nuusagentskap, Interfax, berig Mbatha is aan die hoof van ‘n afvaardiging wat kwessies bespreek het in verband met militêre samewerking en interaksie met hul Russiese eweknieë. Volgens Interfax het Mbatha vandag die opvoedkundige instelling van die grondmagte en ondernemings van die militêre-industriële kompleks besoek. Die publikasie sê ooreenkomste is bereik om samewerking tussen grondmagte op verskeie gebiede verder te verhoog.