Hongkongse vragskip in Suez-kanaal weer vlot gemaak

‘n Reuse-vragskip wat in die Suez-kanaal by Egipte gestrand het, is na ure weer vlot gemaak. Minstens vier vaartuie kon weens die ontwrigting nie deur die kanaal beweeg nie. Die Xin Hai Tong is 190 meter lank en vaar onder die Hongkongse vlag. Dit was naby die suidelike eindpunt van die kanaal. Volgens opsporingstoerusting het drie Egiptiese sleepbote die vaartuig uitgetrek. Die skip is afkomstig van die Dhuba-hawe in Saoedi Arabië. In 2021 het die EverGiven van Taiwan in die kanaal vasgesit en internasionale see-verkeer vir ses dae ontwrig.