Hongkong soek agt aktiviste in buiteland

Die polisie in Hongkong het agt aktiviste wat in die buiteland gebaseer is, beskuldig van samespanning en aanhitsing tot afskeiding. Belonings is uitgeloof vir inligting wat tot die aktiviste se inhegtenisneming kan lei. Die Hongkongse polisie sê waar moontlik sal die bates van die aktiviste bevries word. Die aktiviste bevind hulle in die VSA, Brittanje en Australië. Hulle is aangekla ingevolge veiligheidswetgewing wat die regering in Beijing in 2020 op Hongkong afgedwing het, ná wydverspreide betogings teen die Chinese regering. Die polisie sê 260 mense is in hegtenis geneem in verband met oortredings van die veiligheidswetgewing, waarvan 79 skuldig bevind is op aanklagte van ondermyning en terreur.