Hofsaak oor vinger in slaai

‘n Kliënt het ‘n regsgeding teen die wegneem-slaaie ketting-groep Chopt aanhangig gemaak oor ‘n slaai wat volgens haar ‘n stuk van die bestuurder se vinger bevat het. Allison Cozzi van Greenwich, Connecticut beweer dat sy op 7 April 2023 ‘n slaai by ‘n Chopt-winkel in Mount Kisco, New York gekoop het en terwyl sy dit geëet het besef dat “sy aan ‘n porsie van ‘n menslike vinger kou wat by die slaai gemeng is en deel daarvan gemaak is.” Volgens die hofdokumente het ‘n bestuurder by die restaurant per ongeluk ‘n stuk van haar linker-wysvinger afgesny terwyl sy roket gekap het. Die bestuurder is hospitaal toe geneem, maar die besmette roket is aan Cozzi en ander kliënte bedien, lui die dokumente.