Hilary laat 25 000 huishoudings in Los Angeles sonder krag


Minstens 25 000 huishoudings in Los Angeles in Amerika is sonder krag nadat die tropiese storm Hilary die suide van Kalifornië getref het. Oorstromings en modderstortings is ook in en om die stad aangemeld. Die storm beweeg nou noord maar swaar reën en oorstromings sal na verwagting vandag voortduur. Alle openbare skole in die stad is gesluit en talle vlugte is gekanselleer. ‘n Aardbewing met ‘n geologiese meting van 5,1 het ook die streek getref terwyl inwoners voorberei het vir die storm, maar geen ernstige skade is aangemeld nie.