Herrie oor uitstel van Hosea Kutako Heiligdom

Die onthulling van hoofman Hosea Kutako se Gedenkmuseum en Plaashuis-Heiligdom, wat aanvanklik vir Vrydag in Toasis in die Aminuis-kiesafdeling geskeduleer was, is tot 10 Desember uitgestel. Dit kom ná omstredenheid oor die beweerde uitsluiting van sommige van hoofman Kutako se afstammelinge van die geleentheid. Familiewoordvoerder Kejamuina Mungendje het beweer dat die kantoor van die president ‘n ander stam genooi het, sonder om die betrokkenheid van sy kant van die familie in ag te neem. Die uitstel is amptelik toegeskryf aan president Nangolo Mbumba se bywoning van die inhuldiging van Botswana se verkose president, Duma Boko, op dieselfde dag. Kosmos 94.1 Nuus het gesels met Hivaka Mundgendje, ‘n afstammeling van hoofman Kutako, wat sê dat die regering versuim het om hulle by die beplanning in te sluit.