Health Defence League se Covid-aansoek ter syde gestel

Adjunk-regter president Hosea Angula het in die Windhoek hoërhof uitspraak gelewer in die dagvaardiging van die Health Defence League, onder die leierskap van die bekende tandarts, dr. Martin Wucher, oor onder andere, die Covid-inenting. Wucher, saam met ander aansoekers, het bewyse geëis dat die Covid-entstof veilig is en erge Covid-beheermaatreëls doeltreffend was. Hulle vra ook dat die vrywaring wat lede van die publiek in verband met die entstof onderteken het, ter syde gestel word. Die ministeries van gesondheid en onderwys, sowel as die Namibiese regering, die Medisyne Regulerende Raad en die prokureur-generaal is as respondente gelys. Regter Angula het beslis dat die aansoekers nie locus standi gehad het om die aksie in te stel nie, met ander woorde hulle het nie die prosedurele reg gehad om dit te doen nie. Dit is omdat die liga se uitvoerende komitee nie ‘n resolusie aangeneem het wat Wucher gemagtig het om die aansoek te bring nie. Die meriete van die belangrike saak is dus nie bepaal nie. Die aansoek is ter syde gestel en van die rol verwyder, en ‘n kostebevel ten gunste van die respondente is gemaak.