Hawelose man wen hofsaak teen regering

Die Namibiese ministerie van binnelandse sake en veiligheid en sekuriteit moet skadevergoeding aan ‘n hawelose man betaal nadat die hoërhof bevind het hy is onwettig in hegtenis geneem en aangehou. Gregorey Naomab het op 27 Februarie 2019 met sy hond en twee vriende op Swakopmund geloop toe hy gearresteer is vir opsetlike beskadiging van eiendom. Hy het aan regter George Coleman gesê toestande in die selle by die Mondesa polisiestasie was haglik en hy is ook herhaaldelik ondervra. Hy is eers op 1 Maart vrygelaat sonder enige klag teen hom. Naomab se prokureurs het gevra dat die bedrag vir skadevergoeding nie bekend gemaak word nie.