Harris en Trump steeds kop-aan-kop

‘n Dag voor die Amerikaanse verkiesing is Kamala Harris en Donald Trump kop-aan-kop in die sewe swaaistate, volgens die finale New York Times/Siena College-peiling. Harris het ‘n marginale voorsprong in Nevada, Noord-Carolina en Wisconsin, en Trump is net-net voor in Arizona. Michigan, Georgia en Pennsilvanië is gelykop. Sowat 40 persent van die respondente het reeds gestem en onder hulle loop Harris met 8 persentasiepunte voor. Trump loop voor onder kiesers wat sê dat hulle heel waarskynlik sal stem, maar dit nog nie gedoen het nie. Die gelykop-wedloop in Pennsilvanië wys dat Trump momentum kry in ‘n staat wat Harris met vier persentasiepunte gelei het in alle vorige New York Times-peilings.