Hardap-groenskema benut 1,44 miljoen kubieke meter water

Volgens NamWater se weeklikse dambulletin is daar 12,9 persent waterbronne oor in die drie sentrale damme wat onder meer Windhoek voorsien. Von Bach is op 11,1 persent na water van Swakoppoort, wat op 23,1 persent staan, oorgedra is. Omatako is dolleeg. In die Suide is Hardap op 7,8 persent met 1,44 miljoen kubieke meter wat die afgelope week benut is vir die groenskema. Naute by Keetmanshoop is op 38,6 persent en die Oanobdam by Rehoboth het 36,1 persent water. Die Ooste se totale bronne is op 1,6 persent met die Otjiverodam op 2,5 persent. Die twee Viljoendamme by Gobabis is op 2,8 en 7,2 persent. In die Noorde staan die Olushandjadam op 45,8 persent.