Handgranaat in skrootmetaal dood twee, los twee kritiek
Twee mense is dood en twee is steeds kritiek na ‘n handgranaat by hul opstal in die dorpie Lumina in die Mpacha-omgewing in die Zambezi-streek ontplof het. Twee van die kinders van die gesin van vier, die 14-jarige seun en die nege-jarige dogter is dood in die ontploffing. Die pa, Kashako Mulatehi is na Windhoek oorgeplaas vir verdere mediese sorg, en sy oorblywende kind, Mulatehi Mulatehi, ook in ‘n kritieke toestand, sal ook na Windhoek oorgeplaas word vir verdere sorg. ’n Verslag deur die Namibiese polisie lui dat die slagoffers besig was om skrootmetaal in die Liselo-omgewing te versamel, waar hulle ook die handgranaat opgetel het. Met aankoms by hul opstal in die dorpie Lumina het die pa die toestel met ‘n byl begin slaan, wat dit laat ontplof het.