Grys walvis, wat eeue gelede in die Atlantiese-oseaan uitgesterf het, in Cape Cod opgemerk

In ‘n  seldsame gebeurtenis het die New England Aquarium-lugopnamespan ‘n grys walvis langs die kus van New England in die VSA gewaar, ‘n spesie wat al meer as 200 jaar in die Atlantiese-oseaan uitgesterf het.

Akwariumwetenskaplikes het ongeveer 48km suid van Nantucket gevlieg toe hulle ‘n ongewone walvis gesien het.  

Die lugopnamevliegtuig het 45 minute lank om die gebied gevlieg, wat waarnemers in staat gestel het om foto’s te neem. Daarna het die waarnemers die beelde hersien en hul vermoedens bevestig: Dit was inderdaad ‘n grys walvis.

“Ek wou nie hardop sê wat dit was nie, want dit sou belaglik klink,” sê Orla O’Brien, mede-navorsingswetenskaplike in die Anderson Cabot Centre for Ocean Life by die New England Aquarium.

Volgens ‘n amptelike aantekening van 1729 word ‘n tipe “scrag whale” aan die kus van Massachusetts beskryf as die laaste keer wat ‘n grys walvis in die gebied gesien is.

Foto: Verskaf