Gru-tonele op Sudan se grense

Minstens 17 mense, insluitend vyf kinders, is die naweek dood in ‘n lugaanval in Sudan se hoofstad Khartoem. Die aanval was een van die dodelikste nóg in die hoofstad en dit is gevolg deur ‘n 72-uur wapenstilstand. Die Verenigde Nasies se Hoë Kommissariaat vir Vlugtelinge sê 843 000 mense is ontwortel deur die gevegte wat in April uitgebreek het. Die woordvoerder vir die VN-vlugtelingagentskap, Matthew Saltmarsh, het tydens ‘n inligtingsessie gesê, ‘n kwartmiljoen mense is nou vlugtelinge in verskeie lande, insluitend Tsjad, Ethiopië en Suid-Sudan. In Tsjad is ‘n humanitêre krisis besig om te ontvou met berigte dat weeskinders verhongerd by die kampe aan kom net om daar te sterf.