Gru-foto van vrou wat met byl gekap is, nie aan vergiftiging gekoppel nie

‘n Grusame foto van ‘n vrou wat in haar gesig met ‘n tradisonele byl gekap is, en wat gekoppel word aan die vergiftiging van 24 lede van ‘n huishouding in Kavango Oos, is as fopnuus deur die Namibiese polisie afgemaak. Luidens die stemgreep, wat saam met die foto’s gedeel word, is dit die persoon wat die pap aan die huishouding gegee het. Sestien mense is reeds dood en die ondersoek na die vergiftiging duur voort. Die stemgreep dui aan dat die gemeenskap die vrou aangeval het. Die Namibiese polisie sê die oorsprong van die foto is onbekend en dit hou geen verband met die insident nie.