Gru-dood van kind op Mariental word nog ondersoek, geen klagtes gebring nie
Die woordvoerder van die Namibiese polisie, adjunk-kommissaris Kauna Shikwambi sê daar is nog geen arrestasie in verband met die dood van die nege-jarige dogter by die Hardap-groenskema net buite Mariental nie. Volgens wat berig word het twee kinders na bewering boontjies onwettig op ‘n plot net buite die dorp gepluk. Die eienaar van die grond het hulle blykbaar ingejaag met sy voertuig. Een kind kon wegkom maar die ander een het agter ‘n baal lusern weggekruip. Die eienaar het na bewering oor die baal gery. Daar is eers berig dat die kind ‘n tien-jarige seun was maar Hendrina Amupolo was nege. Die goewerneur van die Hardap-streek Salomon April het sy skok oor die insident uitgespreek en die voorsitter van die Hardap Boere-vereniging Dawie de Klerk, wou nie kommentaar lewer nie. Shikwambi sê verklarings moet nog van getuies ontvang word voor klagtes gefinaliseer kan word. Die insident het groot reaksie uitgelok en talle het op sosiale media melding gemaak van die frustrasie wat boere ervaar met voortdurende diefstal van oeste, vee, sonpanele en meer.