Grootfontein-boer verskyn vandag na skietdood van plaaswerker

‘n 29-jarige plaaswerker is oor die naweek dood nadat hy per ongeluk deur sy werkgewer geskiet is tydens ‘n jag op ‘n plaas in die Grootfontein-distrik. Die woordvoerder van die Otjozondjupa-polisie, inspekteur Maureen Mbeha, sê die voorval het om half-een Saterdagoggend plaasgevind. Na bewering het die verdagte en sewe van sy werkers, wat die oorledene Jacob Kache ingesluit het, koedoes gesoek. Kache en sy kollega het glo van die voertuig afgespring maar die werkgewer was steeds besig om te skiet. Hy is in die rug getref en is op die toneel dood. Die 38-jarige verdagte is in hegtenis geneem op ‘n klag van strafbare manslag en sal na verwagting vandag in die Grootfontein-landdroshof verskyn.