Groot riviere sak steeds

Die Namibië Hidrologiese Diens het sy waarskuwing herhaal dat gebeurlikheidsplanne vir droogteversagting geaktiveer moet word. Dit is omdat die watervlakke van sommige van die land se grensriviere baie laag is vir hierdie tyd van die jaar, net soos meeste van die land se groot damme. Die watervlak van die Zambezirivier by Katima Mulilo het met ‘n sentimeter gesak tot 1,31m vanoggend. Die Okavangorivier by Rundu het geen verandering in watervlak vir die afgelope twee dae aangeteken nie en is steeds op 5,34m. Die Kunenerivier by Ruacana loop steeds sterk en het vanoggend ‘n vloei van 361,4 kubieke meter per sekonde aangeteken. Die watervlakke van die Benede-Oranjerivier by Blouputs het vanoggend 41cm aangeteken, wat 5cm laer was as gister. Net so was watervlakke by Sendelingsdrift 4cm laer op 36cm.