Groot oplewing in SA motorverkope in Oktober

Laer inflasie en brandstofpryse het bygedra om passasiermotorverkope in Oktober met 14,5-persent te laat styg, vergeleke met Oktober verlede jaar, en hulle beste maand in vyf jaar aan te teken. Die voertuigbedryfsliggaam Naamsa sê 34 228 passasiersmotors is verlede maand verkoop, maar die verkoop van ligte handelsvoertuie is steeds laer. Die verkoopsyfer van bakkies en minibusse was 12,7-persent laer as in Oktober 2023. Die verkoop van medium- en swaarvragmotors het onderskeidelik met 10,1-persent en 7,1-persent gedaal.