Groot moeilikheid op pad, damme lyk bedroef
Namibiese damvlakke staan tans gesamentlik op 70 persent teenoor verlede jaar se gesamentlike vlak van 83,2 persent. Damme wat Windhoek van water voorsien, is tans gesamentlik 52,2 persent vol teenoor verlede jaar se 61,6 persent. Die Swakoppoortdam se vlak staan op 71,6 persent, maar pomp steeds water oor na die Von Bachdam wat nou 26,2 persent vol is. Von Bach was verlede jaar dieselfde tydperk 52,5 persent vol. Die Omatakodam vanwaar water ook na Von Bach gepomp is, is nou dolleeg. Op Gobabis word water vanaf die Otjiverodam na die Tilda Viljoendam gepomp wat nou 42,5 persent vol is. Otjivero self staan op 11 persent en dit is onbekend wat die Ooste gaan doen vir watervoorsiening, veral as die komende seisoen ook swak is. In die Suide is die Hardapdam 38,5 persent vol teenoor verlede jaar se 69,8 persent. Die Nautedam was verlede jaar oorvol, met sy vlak wat nou op 65,4 persent staan.