Groei verlangsaam, maar beleggings skiet die hoogte in
Die grootte van die binnelandse ekonomie, soos gemeet aan nominale Bruto Binnelandse Produk, het verlede jaar met 22,3 miljard Namibiese dollar tot 227,8 miljard dollar gegroei. Die binnelandse ekonomie se groei het egter verlangsaam tot 4,2 persent verlede jaar, relatief tot ‘n groei van 5,3 persent in 2022, volgens die Namibië Statistiek-agentskap, NSA, se nuutste syfers. Die mynbou- en steengroefsektor was die grootste bydraer tot die ekonomie, en was verantwoordelik vir 14,4 persent van die BBP, gevolg deur vervaardiging met 11,2 persent en groothandel met 11 persent, volgens die NSA se uitvoerende hoof en statistikus-generaal, Alex Shimuafeni. Privaat huishoudelike verbruiksbesteding, wat 73,3 persent van die BBP uitmaak, het groei van 4,7 persent getoon, vergeleke met 9,5 persent in 2022. Belegging het versnel as gevolg van verhoogde uitgawes in olie- en gaseksplorasie en was 69,3 persent in 2023, in vergelyking met die 10 persent wat in 2022 geregistreer is.