Groei in Europese toeristemarkte danksy direkte vlugte

Die piekseisoen vir die Namibiese toerismesektor het in Mei aangebreek en duur gewoonlik tot September. Die meerderheid buitelandse toeriste, altesaam 41 persent, het gedurende April 2023 van Duitsland, Oostenryk en Switserland gekom. Die besettingsyfer in April by landswye gasvryheids-instellings het op 51,8 persent gestaan, vergeleke met 36,5 persent wat in April verlede jaar aangeteken is. Volgens die Gasvryheidsvereniging van Namibië is die groei in Namibië se belangrikste toeriste-bronmarkte – Duitsland, Oostenryk en Switserland – deels te danke aan die beskikbaarheid van tien direkte vlugte elke week tussen Windhoek en Frankfurt. Boonop hou die verswakkende Suid-Afrikaanse rand-wisselkoers ‘n voordeel vir buitelanders in Namibië in aangesien hul euro’s meer bestedingskrag het. Die invloei uit Europa het in Januarie vanjaar opgetel en is sedertdien in ‘n opwaartse neiging.