GRN blameer kontrakteurs (wat hy aanstel) vir onvoltooide projekte
‘n Tekort aan finansiering en vaardighede het veroorsaak dat 43 kapitaalprojekte deur die Namibiese regering laat vaar is. Luidens ‘n verslag deur die ministerie van werke is die waarde van die projekte rondom 990 miljoen Namibiese dollar en die minister, John Mutorwa, sê die skuld lê by die kontrakteurs. Onder die projekte is behuising, hospitale, skole en meer. Volgens die verslag is die konstruksie van 326 huise in die hoofstad, ter waarde van 45 miljoen dollar, reeds in 2017 laat vaar terwyl die kontrakteur wat aangestel is om die Keetmanshoop-hospitaal op te gradeer, nie die kapasiteit of vaardighede daarvoor gehad het nie. Die projek, met ‘n beraamde waarde van 23 miljoen dollar, is reeds in 2016 laat vaar. Die regering gaan gereeld gebuk onder kritiek oor projekte wat nie voltooi word nie en kontrakteurs wat wegkom met swak vakmanskap en die laat vaar van projekte sonder enige werklike gevolge.