Golden Game dagvaar vir N$6,7m na helikopterongeluk

Golden Game van Mariental dagvaar Antje Nauhaus en Namibia Base Aviation vir net meer as 6,7 miljoen Namibiese dollar na die noodlottige ongeluk in Julie verlede jaar op Swakopmund. Golden Game se Robinson 44 helikopter het neergestort tydens ‘n toetsvlug. In sy stukke sê die wildhandelaar ‘n ooreenkoms is in Maart 2022 met Namibia Base Aviation onderteken vir ‘n 12-jaar inspeksie en sertifisering van die helikopter. Voor die noodlottige toetsvlug was daar ‘n permit daarvoor sowel as ‘n registrasie-sertifikaat van die helikopter as roepsyn V5-HGG. Golden Game voer aan die twee dokumente is deur Nauhaus vervals en dat hy onbewus was daarvan. In die alternatief sê Golden Game die onderhoud aan die helikopter is nie korrek gedoen nie. In ieder geval, die tuig het neergestort en die skade beloop 6,7 miljoen dollar. Namibia Base Aviation verdedig maar Nauhaus het geen verdediging aangeteken nie. Die saak kom vandag voor vir ‘n statusverhoor voor regter Eileen Rakow.